Post by Tokkie Ferreira
Managing Director at Tokkie Ferreira Brokers
Dankie vir 20 jaar se hardwerkendheid en passie! Oor die afgelope 20 jaar het daar baie dinge gebeur – die wêreld het beweeg van inbel-internet na 5G en vesel, van loodbevattende petrol na elektriese motors en dies meer. Maar tussendeur al die veranderinge was daar een konstante: ons geliefde Hendrien le Roux. Dwarsdeur Tokkie Ferreira Makelaars se ryke geskiedenis was Hendrien nog altyd ’n voorbeeld van lojaliteit, volharding en passie in ons besigheid. Haar geesdrif en hardwerkendheid het gemaak dat sy die ideale persoon was om as kantoorbestuurder leiding te neem en as senior onderskrywer op te tree. Dit is dus met ’n swaar hart dat ons aan die einde van Oktober hierdie hartsmens moes groet soos sy aftree en in ’n nuwe lewensfase intree. Terselfdertyd vind ons vreugde in die wete dat sy nou meer tyd saam met haar man, Dewald, en kleinkinders in KwaZulu-Natal kan geniet en die vrugte van haar arbeid in haar aftrede kan pluk. Ons sal haar altyd onthou vir haar onbeskaamde godvresendheid en haar moederlike geaardheid wat almal altyd so welkom en geliefd laat voel het. Ons wens vir haar en Dewald sterkte toe en bedank hulle opreg vir die impak wat hulle op die besigheid en die omliggende gemeenskap gehad het.